Lees saam met jou baba

Artikel deur: Usborne Ouergids Leer jou kind lees en skryf - Usborne publisering

Wenke vir leestyd saam met jou baba

Babas kan met boeke pret hê lank voordat hulle enige woorde ken – en sommer ook vaardighede aanleer wat hulle later wanneer hulle leer lees, sal nodig hê. Selfs klein babatjies hou daarvan om na jou stem te luister terwyl julle snoesig saam met ’n boek sit. Hulle leer gou om lees met hierdie positiewe gevoel van warmte en sekuriteit te assosieer.

Deur na boeke te kyk, leer kinders hoe boeke en stories werk. Babas leer hulle hoe om ’n boek vas te hou en om te blaai. Later leer hulle ’n storie het ’n begin, ’n middel en ’n einde. Hulle leer ook dat storieboektaal meer formeel is as alledaagse praattaal. Dit is alles uiters belangrike vaardighede wat ’n kind help om te leer lees wanneer die tyd ryp is.

Babas het ’n baie kort aandagspan – blaai dus net kort rukkies op ’n dag in boeke. Soos die baba se konsentrasievermoë vorder, kan jy die tyd wat julle saamlees geleidelik verleng.

Gee jou baba tyd om na die prentjies te kyk. Wag vir die baba om te koer of na iets te wys wat hom opval, en reageer wanneer hy reageer. Wys na die prentjies op die bladsy, sê wat dit is en beskryf wat jy sien. Dis goed om baie vrae te vra, soos: “Waar is die kat? Kan jy sy stert sien?” selfs al moet jy die vraag self beantwoord.

Van omtrent 12 maande af kan jy gereelde leestydjies instel, dalk vroeg in die oggend, ná middagete, voor ’n middagslapie of teen slapenstyd. Slaaptydstories word dikwels ’n belangrike deel van ’n kind se roetine en kan aanhou lank nadat die kind al self leer lees het.

Het jy geweet?

Studies toon dat vroue meer as mans geneig is om vir kinders te lees. Maar dis baie belangrik – veral vir seuns – dat die pa of ander manlike familielede ook soveel moontlik vir hulle sal lees.

Inligting geneem uit: Usborne Ouergids: Help jou kind lees en skryf

You must be logged in to comment on articles.