Raad oor tuisonderrig

Artikel deur: Usborne Ouergids Leer jou kind lees en skryf - Usborne publisering

Ek en my man glo dat ’n mens nooit ’n kind, hetsy baba, peuter, kleuter, woelwater, kind of jongmens, kan oorstimuleer nie en ons het daarvolgens te werk gegaan. Gee jou kind – op sy vlak natuurlik – alles wat jy het en meer, en hy sal self inneem wat hy kan hanteer. Glo my, die res word wel iewers in daardie grysstof van hulle vir latere gebruik gestoor.  

Ek wil my verstout om te sê dat dit dus van jou as ma verg om te alle tye by jou kind se doen en late betrokke te wees. Dit verg van jou om saam met hom tot volwassenheid te groei, want reeds daar aan moedersknie leer hy uit sy heel eerste prenteboek ‘lees’. Maar belangriker: dit kweek ’n liefde vir boeke en só word kennis ingeneem en geassosieer met boeke.

Prente, syfers, alles wat jy vir jou kind wys – ja, tot vervelens toe herhaal en herhaal – is sy eerste stappie tot ‘lees’.  Later kom woorde by en selfs later sinne wat Mamma vir hom lees en wat sy slim koppie assosieer, onthou en verwerk. So leer hy speel-speel ‘lees’.

Ek wil ook byvoeg dat die rekenaar, wanneer dit beheersd en gedissiplineerd gebruik word, ook ’n groot rol in die kind se smagting na kennis speel – reeds van die peuterstadium af, wanneer knoppies-druk hom magneties aantrek. Opvoedkundige speletjies en later kinder-ensiklopedieë en allerlei speel-speel leertegnieke op die rekenaar, het die wêreld vir my kinders oopgemaak en ook geweldig bygedra tot hulle vermoë om regtig te kan lees. ’n Weldeurdagte en goed ontwerpte opvoedkundige speletjie vuur die kind aan om die hoër vlakke te bereik – kompetisie is mos ’n kind se kos.

Ag, deur net sy programme op die rekenaar oop te maak word hy gedwing om sekere ‘vorms’ te herken en hierdie ‘vorms’ kom hy gou agter is woorde. Woorde vorm sinne, sinne vorm paragrawe en paragrawe word stories. Jy kan dus weer eens sien daar is geen goue resep nie; geen metode, program, opvoedkundige leerstof of speletjie werk optimaal as jy dit nie saam met jou kind doen nie.

Vandat my kinders kleuters was, het ons verhale wat die gesin interesseer saam uit ons gesinstorieboek gelees. Mamma of Pappa lees, en die ander gesinslede sit en luister. Die verhale is almal langer as 100 bladsye en ons lees net ’n hoofstuk of so op ’n slag. Vandat die kinders self kon lees het hulle dikwels (en tot vandag toe nog) vir mekaar en vir ons die verhale vertel. Dan het hulle ook vir mekaar en vir ons probeer oorreed om dié of daai boek te lees. Heel dikwels het spontane besprekings oor die boeke plaasgevind en elkeen het dan sy of haar opinie gelug. My jongste was eers bietjie lui om te lees – nie dat sy nie gelees het nie, maar sy het van kleins af geluister wanneer ons boeke bespreek het, die verhale onthou en selfs haar opinie gelug nadat sy die storielyn gevolg het.

Buiten boeke, kan strokies, tydskrifte, brosjures –  ja, selfs die tandarts se vaal stokmannetjiebrosjure – kinders vir ure lank besig hou. Jou kind se brein versamel kennis vandat hy ’n boek kan vashou – of dit nou onderstebo of regop gehou word. Van my kinders se eerste lapboekie af het ek vir hulle geleer watter kant is regop en dat boeke nie verniel moet word nie!

Sit alles in en speel saam-saam van prentjie na alfabet, na kort woordjies. Bou dit soos legkaarte, speel geheuespeletjies en maak paskaarte (die alfabet om woorde te bou, woorde om sinnetjies te bou, kaarte met prentjies en ander met woorde wat bymekaar gepas moet word). Lees vir hom terwyl hy saamkyk en blaai of lees vir hom terwyl hy net luister.

Geniet jou kleinood speel-speel, saam-saam, betrokke oomblik vir oomblik; hy is jou ’n kort tydjie geskenk om te vorm en brei sodat hy die groot wye, mooi wêreld kan invaar.

You must be logged in to comment on articles.